Agtergrond

Om ‘n taal aan te leer, is nie altyd maklik nie, maar dit is wel ‘n ongelooflike vaardigheid wat niemand ooit van jou kan wegvat nie. “As jy met iemand in ‘n taal wat hy verstaan praat, praat jy met sy verstand; as jy met hom in sy moedertaal praat, praat jy met sy hart”. Nelson Mandela se woorde het ons geïnspireer om die Afrikaans Innikol-boekreeks te skryf. Ons mikpunt is om ‘n liefde by elke leerder te ontwikkel en dit pret te maak om Afrikaans te leer. Jare se onderwysondervinding het ons geleer hoe om lesse makliker oor te dra en die inskerping van die inhoud, te bevorder. Innikol is ook ontwerp om die las vir onderwysers te verlig en hulle werk te vergemaklik.

 Die Innikol-reeks bestaan uit interessante temas met kleurvolle illustrasies wat leerlinge se belangstelling wek. Algemene kennis en woordeskat word uitgebrei. Taalreëls met genoegsame oefening word deeglik behandel om leerders se kennis te toets. Aktiwiteite vir voorgeskrewe letterkunde is ingesluit, asook alle formate vir skryfwerk word m.b.v. oefeninge behandel. Innikol voldoen aan die KABV-vereistes en Jaarlikse onderrigplanne word noukeurig gevolg. Integrasie met ander akademiese vakke vind plaas. Daar is geen verskoning by leerders om nie die regte boek by die skool te hê nie, want alle aspekte word in een boek gedek.

OOR DIE OUTEUR – Krizaan en Karina woon huidig in Krugersdorp. 40 jaar se gekombineerde ondervinding in die onderrig van Afrikaans as Addisionele Taal, het hulle geleer hoe om beplanning vir die onderwyser te vergemaklik en lesse makliker oor te dra. As Afrikaanse HOD’s en senior merkers van matriekvraestelle, weet hulle beslis waarvan hulle praat.